COVID-19 -
VAN WAAR?
Ons was
lanklaas in die geskiedenis met so ‘n vreemde situasie gekonfronteer soos
Covid-19. Hierdie virus se volledige naam is “severe acute respiratory syndrome
coronavirus 2” of “SARS-CoV2”. Dit is om dit te onderskei van die vele SARS
virusse wat bestaan. Die een vraag wat ons almal oor wonder is: Waar kom die
virus vandaan? Gelowiges gee dikwels die vreemdste antwoorde. Kom ons kyk na
van die antwoorde.
Die virus
kom van die Duiwel.
Nee! Die
duiwel het geen skeppingsmag om enige iets tot stand te kan bring nie. Self
probeer ek so min as moontlik oor die duiwel praat, want hy verdien geen aandag
nie.
Die virus
kom van die bose.
Hierdie
antwoord is dalk baie naby aan die eerste antwoord. Dit is nou as jy die duiwel
en die bose gelyk stel. Ek hou van die antwoord. Kom ek pas dit effens aan. Die
virus is as gevolg van boosheid. Ek kom net nou terug na hierdie antwoord.
Die virus
kom van God.
Ja! God het
die virus geskep, van die begin van die skepping af. Hierdie virus kom in die
natuur voor en is nie in ‘n laboratorium gekweek nie. Nou moet ek verduidelik
dat gelowiges glo dat alles deur God tot stand gekom het. (Johannes 1:3
Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het
sonder Hom tot stand gekom nie. Hebreërs 2:10 God, ter wille van wie alles
bestaan en deur wie alles ontstaan het, ...; Hebreërs 11:3 Omdat ons
glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare
dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. En Openbaring 4:11 “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die
mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is
dit geskep.)
Waarom sou God hierdie virus of enige
ander van die miljarde virusse geskep het?
Om hierdie vraag te beantwoord, is
bykans soos die vraag: Waarom het God muskiete, kakkerlakke en rotte gemaak? In
‘n neutedop, en hierdie is net een verduideliking (ek hoop nie hier is viroloë
wat hier lees nie. Ek bely dadelik, ek is ‘n leek op die gebied): In ons oseane
bv. speel virusse ‘n onontbeerlike rol in die afbreek van mikrobus en ander
mikro-organismes, wat weer noodsaaklik is vir die vrystelling van nitrate in
ons oseane. “Currently, it is thought that most of the viruses arephages that
infect bacteria, but archaeal and eukaryoticviruses are certainly important
components of most eco-systems.” (https://sfamjournals.onlinelibrary.wiley.com/doi/pdf/
10.1111/j.1462-2920.2009.02101.x ) Maar, ons verstaan egter steeds min van
die werking van virusse. “Ondanks die onlangse toenemende belangstelling in
omgewingsvirusse, bly ons kennis yl. Ons krap nog net op die oppervlakte wat
betref die ontdekking van wêreldwye virale diversiteit, het min begrip vir die
funksionaliteit van die meerderheid gene in die wêreldwye virale genepoel en
die rol wat hulle speel in die interaksie met hul gashere. Ons worstel steeds
om die virale impak op die ekologiese en evolusionêre prosesse te verstaan.”
Terwyl daar letterlik miljarde virusse bestaan, is die hoeveelheid wat siektes
onder mense veroorsaak so min soos 200 virusse en die lewensbydrygende virusse
nog minder.
Die SARS-Cov
virus kom veral op vlermuise voor. (Vlermuise word beskryf as resevoirs van virusse.) Vlermuise kan met aasvoëls vergelyk word. In
God se skepping is hulle noodsaaklik vir ons welstand. Aasvoëls het die vermoë
om besmette karkasse “op te ruim” deur die verrotte vleis te eet sonder dat die
aasvoël iets oorkom. Vlermuise kan tonne insekte, wat draers van lewensbedreigende
bakterieë is, verorber. Wat die presiese rol van die virusse op die vlermuise is,
is steeds nie bevredigend beantwoord nie. Dat vlermuise ‘n integrale deel van
die ekologie uitmaak, wat bestuiwing van verskeie vrugtesoorte en die verlaging
in gevaarlike insekte betref, wat muskiete insluit, is inderdaad so.
Hoe het die verspreiding van die
virus na mense plaasgevind?
Hier kom boosheid nou ter sprake. Terwyl
‘n klinkklare antwoord nie maklik is nie, kan ons egter sê die mens het homself
vergryp aan die natuur. Die mens se onversadigbare verbruikershonger, het
veroorsaak dat die wêreld van die vlermuis en van die mens begin oorvleuel het.
Die natuurlike habitat van die vlermuis is deur ontbossing vernietig. Dit
beteken dat die vlermuise intrek begin neem het in woonbuurte. Nee, mense het
begin “intrek” in die woongebied van vlermuise. Nou is dit nog makliker om in
kontak te kom met die ontlasting en urine van vlermuise, wat die draers van die
virusse is.
By die “wet market” (Huanan Seafood
Wholesale Market) in Wuhan, China word vlermuise in klein hokkies en dikwels
saam met ander wilde diere aangehou, o.a die ietermagog. Vir een of ander
vreemde rede is wilde dier gewild in China. Hierdie diere word aan wrede
omstandighede blootgestel. Die oordrag van die SARS-Cov virus was ‘n ongeluk
wat gewag het om te gebeur. Trouens, ander variante het reeds in die verlede so
versprei. Die vlermuise word nie net hanteer onder ongunstige omstandighede
nie, maar die ontlasting en urine word onvermydelik “gemors” en ingeneem deur
net aan ander voedsel te vat wat ook hanteer word. Een van die teorie is dat
die virus eers na die ietermagog gespring het en toe na mense. Die mens se onversadigbare
drang na meer (eksotiese) diere en kossoorte was regstreeks die gevolg van die
oordrag. Laat ek nou dadelik sê dat die hoeveelheid mense wat vlermuise eet, is
dalk minder as die mense in ons land wat afval eet.
Die boosheid
in die mens veroorsaak ‘n vergryp aan die natuur. Ons opdrag was om die aarde
te bewerk, dit te bestuur tot ons voordeel en tot God se verheerliking (Genesis
1:28). Wat maak jy met God se skepping? Hoe lyk jou verbruikerspatrone?
Genadiglik is ons ook deel van God se herskeppingswerk en gee Hy aan
wetenskaplikes die vermoë om entstowwe te ontwerp wat (hopelik) Covid gaan hok
slaan.
Wanneer ons
bid vir ‘n Goddelike ingreep wat Covid-19 betref, behoort dit ons hartseer te
maak dat ons die aarde verniel en dan verwag God moet dit telkens regstel. God
se begeerte is dat ons Sy wêreld sal respekteer en dit bewaar.
---------0000-------
HAAL ASEM - SAAM MET ANDER
Andre Rublev se Ikon van die Drie-eenheid
Die bekende
ikon is deur Rublev in 1425 geskryf.
Dit beeld die drie besoekers aan Abraham uit waarvan Gen 18 ons vertel. Die
ikoon straal ‘n spiritualiteit uit wat die teologie van die vroeë kerk
beliggaam. Wat onmiddelik opval is die stilte in die ikon. Stilte simboliseer
ewigheid. Die drie figure, engele, simboliseer die Vader, die Seun en die
Heilige Gees. Dit is belangrik om daarop te let dat Rublev nie poog om God uit
te beeld nie. Hy poog eerder om iets te bely van die Drie-enige God. Die leser
van die ikon moet nie die fout maak deur te wil verklaar: Daar is God of lyk
God regtig so nie.
Die skrywer help ons met die interpretasie deur
bo die engel wat die Vader simboliseer ‘n huis te teken. Op die eerste vlak is
dit Abraham en Sarah se huis, hulle boom by Mamre en die berge van Judea agter
die derde engel. Rublev kyk vanuit die perspektief van die Nuwe Testament na
die gebeure. Die
huis simboliseer die “Huis van my Vader”.
Hy is die Skeppergod voor wie die ander twee buig. Die engel in die middel stel
Jesus voor met die boom as teken van sy verlossingswerk aan die kruis. Die berg
dui op die verligting van die Heilige Gees.
Die drie figure sit om die Nagmaalstafel met die beker in die middel. Die
verlossingswerk van die mense in Christus geskied deur die Drie-enige God
Die kleure in
die ikon help ons verder met die onderskeiding van die engele. Christus word
altyd met ‘n rooi kleed aan uitgebeeld. Dit is teken van sy menslike natuur.
Bo-oor is dan die blou kleed wat die hemelse of Goddelike natuur voorstel. In
ikone van Maria is haar onderste kleed blou as teken daarvan dat sy die draer
van die Seun van God is. Groen is die teken van die aarde, wysheid en lewe. God
het op die aarde in mense kom woon. Let op die blou onderkleed van die Engel.
Die ongeskape lig van God word op vier maniere uitgebeeld: wit wolke en
kledingstukke, strale wat uit die hemel uitstraal of uit ‘n figuur uit en goue
stralekranse.
In die
ortodoksie gaan die priester die heiligdom binne met sy rug na die mense. Hier
staan Christus met sy rug na die mense, maar die leser van die ikon staan aan
die agterkant van die aller heiligste deel. Rublov trek ons dus in die misterie
van God in. Die leser is as’t ware in die paradys saam met die heiliges waar
ons almal om die Nagmaalstafel teenwoordig is. Die Drie-eenheid word uitgebeeld
in ‘n sirkelgang. Terwyl daar dus stilte en geen beweging is nie, skryf Rublev
in die ikon die begrip Perichoresis in. Die woord dui op die ewige dans van die
Drie-eenheid en dat ons uitgenooi word om saam met die Drie-eenheid te dans in
die viering van alles wat heilig is.
______________OOO000OOO_______________
KLOOSTERYD
In ‘n artikel https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/inperking-mense-gaan-terugverlang-na-hierdie-tyd-20200420
skryf Bun Booyens oor sy 15 maande wat hy op Antarktika gespandeer het. Hy
vergelyk die inperking van Covid-19 op hulle inperking op Antarktika.
Skrikwekkend as hy vertel hoe spanne na ‘n jaar kom haal is en die totaal span,
elke lid, net uit mekaar geval het en geensins produktief was nie. Hulle kon
net nie by die inperking en isolasie aanpas nie. Sy antwoord op die inperking:
Gedissiplineerde roetine. Hy noem dit die belangrikste vaardigheid wat jy nou
gedurende Covid-19 kan ontwikkel. Ek onthou toe ek in 2004 in die westelike woestyn buite Kaïro in kloosters gebly
het, was dit een van die eerste dinge wat my opgeval het. Die monnike het ‘n
daaglikse geroetineerde dissipline beoefen. Dit het bestaan uit vaste gebedstye, vaste
etenstye en elke monnik het ‘n taak gehad wat uitgevoer moes word. (Hy wat nie wil werk nie, mag nie eet nie!)
Ons moedig tans ons lidmate aan om hierdie tyd te gebruik as ‘n klooster-tyd,
‘n tyd waarin ons kan terug trek in ons huise, hartskamers, kloosters in en
geroetineerd in stilte by die Here tyd spandeer. Maar, dit neem nie die ander
beginsels weg van geroetineerde oefen, eet, slaap en werk nie. Trouens, hulle
het nie eens in die strengste kloosters net gebid nie nie. As geloofsgemeenskap
kan ons mos nie anders as om aan die misterie van God vas te hou en te aanvaar
dat Hy in ons kloosters sal doen wat Hy wil. Soos die Psalmdigter sê: Ps
19:4-5 Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan
daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke
van die aarde.
In haar kommentaar op hoofstuk 64 van die Lewensreël van St Benediktus,
skryf Joan Chittister dat die klooster ‘n plek is waar die deure altyd oop
staan, die omgewing en kultuur sag en helend, die ritme georden en God sentraal
staan. Die klooster moet ‘n lig wees wat ons daaraan herinner hoe skoon die wêreld
kon wees indien ons almal ons lewens op hierdie waardes sou bou. Die klooster
is nie ‘n kerk nie, maar is in die kerk en vir die kerk. Wat in die klooster
gebeur behoort die geestelike lewe van die streek waar in die klooster geleë is
te raak. Maak dit nou van toepassing op jou eie klooster, jy sal verbaas staan
oor die getuienis wat daar sal uit gaan.
_________oooo0000ooooo___________
Rembrandt en Emmaus Lukas 24:13-35
Ons staan die week stil by ons emosies nav Lukas 24 - Die Emmausgangers.
Rembrandt (1606-1669) het sewe kunswerk oor hierdie bekende verhaal
geskep. In elkeen van die kunswerke is daar intense emosies. Dit wil ook
lyk as of Rembrandt sy eie emosie/karakter in sy kunswerke oor die
Emmausgangers uitgebeeld het. Kyk bv weer na die werk: Olie op Papier
1629 Musée Jacquemart-André, Paris. Hy verf hierdie toneel van Emmaus in
1629. Hy is in die begin van sy loopbaan. Let op na Jesus, amper (met
respek gesê) arrogant, met die lig wat uit Hom straal – terug getrek.
Die een dissipel, ook in die lig, deins terug daarvan – skok, verbasing.
Die ander een voor in die donker op sy knieë - beangs. Dalk is jou
emosie ook in hierdie tyd hier êrens opgesluit? (Is daar 'n hond in die
kunswerk?)
Rembrandt trou in 1634 met Saskia Uylenburgh. Dit wil voorkom of dit goeie jare vir Rembrandt was. Sy loopbaan begin blom. Kyk hoe beeld hy die verhaal hier uit (Ets 1634 Rembrandthuis, Amsterdam). Al die figure is half ongeërg - wie is hierdie Vreemdeling nou regtig? Let veral op die persoon links? Is dit Rembrandt in die middel? Die figure is op dieselfde vlak. Jesus is egter kaalvoet. Wat sou die uitgeteerde hond wou sê? Watter emosie roep die ets by jou op?
Rembrandt se seun (2 maande) sterf in 1635. In 1638 sterf sy dogter
(3 weke). Die derde kind (1 maand) sterf in 1640 en Siskia, sy vrou sterf in
1642. Gedurende sy vrou se siekte, begin hy ‘n verhouding met sy huishoudster.
Hy moes later onderhoud aan haar betaal. Hy het nog ‘n verdere verhouding met
‘n jonger meisie. Inderdaad ‘n onstuimige tyd vir Rembrandt! Kyk hoe
skrikwekkend lyk Jesus hier in die tekening (1648/49 Fitzwilliam Museum) van die openbaring te
Emmaus. Projekteer ons nie ook graag ons onstuimige binnewêreld op ons verstaan
van Christus nie? Watter emosie maak die kunswerk in jou wakker?
In 1654 het Rembrandt ‘n
buite-egtelike kind by die huishulp Hendrickje Stoffels. Sy word voor die
kerkraad van die Geref Kerk gedaag en aangekla van hoerery! Sy word onder
sensuur geplaas. Rembrandt was nie ‘n lidmaat van die kerk nie. Kyk na die
tekening (1655 Berlyn). Wat sou Rembrandt se emosie wees toe hy die skets gedoen
het? Jesus stil in die agtergrond, en die kindertjies? Is dit moontlik die
kinders wat oorlede is? Sien ek nog ‘n babatjie links bo? Daar is die hond
weer?!
Hierdie is die laaste van Rembrandt
se kunswerke oor Emmaus (Penskets 1655/56 Louvre). Waar die voriges Jesus aan
tafel uitgebeeld het, is Jesus in die laaste twee op pad. Hendrickje sterf in
1663 en sy seun Titus in 1668. Rembrandt sterf op 4 Oktober 1669 en word in die
Westerkerk in ‘n onbekende graf begrawe. Is dit dalk Rembrandt self op
regterkant en sy seun links? Met watter emosie moes hy mee geworstel het? Waar
vind jy vir Jesus op pad na Emmaus?
_______________________________ooOoo________________________________
Gebed van Etty Hillesum (15 Jun 1914 – 30 Nov 1943-Auschwitz)
Sy verloor
haar goeie vriend en geliefde in die konsentrasiekamp op 15 September 1942. Sy
word self baie siek. Sy skryf hierdie gebed in haar dagboek:
”Miskien, o God, was al hierdie dinge wat gelyktydig
gebeur het, ‘n bietjie hard. Ek word daagliks daaraan herinner dat ‘n mens ook
‘n liggaam het. Ek het gemeen my gees en hart sou genoeg wees om my deur alles
te dra. Nou het my liggaam egter vir haarself gepraat en halt geroep. Ek besef
nou, God, hoeveel U my gegee het. So baie wat mooi was en so baie wat swaar was
om te dra. Tog, wanneer ek myself bereid verklaar het om die swaar te dra, was
die swaar onmiddellik in skoonheid omvorm. En die skoonheid was nog moeiliker
om te verdra, dit het oorweldigend gevoel. Om te dink dat ‘n mens se klein
hartjie soveel kan ervaar, o God, soveel lyding en soveel liefde. Ek is so
dankbaar teenoor U, Here, dat U my hart in hierdie tye gekies het om al die
dinge te ervaar wat ek wel ervaar het. Miskien is dit tot my beswil dat ek siek
geword het. Ek het nog nie heeltemal daarmee vrede gemaak nie. Ek is ietwat
afgestomp, verward en hulpeloos, maar terselfdertyd probeer ek om die bietjie verdraagsaamheid
wat ek oor het uit elke hoekie van my wese bymekaar te skraap. Ek sal ‘n nuwe
manier van verdraagsaamheid moet vind om hierdie nuwe situasie te hanteer. Ek
sal die ou beproefde metode weer gebruik deur met myself, …, te praat en om ook
met U te praat, O God. Is dit reg so met U? Soos mense uit die lewe vertrek,
voel ek ‘n al groter behoefte om met U alleen te praat. Ek het mense so
ontsettend lief, want in elke mens het ek iets van U lief. Ek soek U orals in
hulle en vind dikwels iets van U. Maar nou het ek soveel verdraagsaamheid
nodig, verdraagsaamheid en helder denke, dinge gaan nou baie moeilik wees. Ek
moet nou alles vir myself doen. Die beste en edelste deel van my vriend, die
man wie se lig U in my aangesteek het, is nou by U. Ek het by sy bed gestaan en
ervaar dat ek voor een van U laaste misteries staan, my God”
---------------------------------------------------ooOOoo---------------------------------------------------
Die Theotokos as
simbool van hoop (“Icon of The Virgin of the Passion”)
|
(Ikoon van Andreas
Ritzos (1421-1492): Ikonen-Museum Recklinghausen Duitsland) |
Daar het die
afgelope ruk, met die uitbreek van die Covid-19 pandemie, ‘n prentjie op
sosiale media gesirkuleer wat Jesus as ‘n wit Trump-agtige dokter met ‘n stetoskoop
uitbeeld. Die Trump-Jesus hou dan die aarde vas, uitgebeeld as ‘n meisie met
wit-grys hare wat huil. Sonder om verder te vra wat fout met so ‘n simbool in
ons tyd is, meen ek daar is beter simbole om ons angs en benoudheid mee uit te druk.
In ons (vergete) kerklike tradisie lê daar ‘n ryke skat van ikonografie. Ek sou
so ‘n ikoon wou voorhou as ‘n simbool van hoop. Die ikoon van die Theotokos,
die ewige helper of dan The Virgin of the Passion.
Die ikoon van Andreas
Ritzos beeld Moeder Maria uit, wat die Kind Jesus vashou. Jesus se kop is skerp
na agter gedraai, na Migael en Gabriel. Die aartsengele Migael en Gabriel hou
die simbole van die Paasmisterie vas - Migael (in die linkerhoek) hou die spies
en die riet (ander uitbeeldings toon ook die kroon van dorings, en Gabriel (in
die regterhoek) hou die kruis. Gabriel was die Engel wat die heilsaankondiging
aan Maria gebring het. Die bedoeling met die ikoon was om Christus uit te beeld
wat sy toekomstige lyding nou reeds sien. Let op hoe sy een sandaal van sy voet
af val. Sommiges meen dit is ‘n teken van skok oor dit wat aan Hom vermeld
word. Jesus gryp met beide Sy hande die hand van sy moeder vas. Hy soek troos
by sy moeder, terwyl hy die tekens van sy lyding sien. Maria hou Christus se
hande vas, maar hou Hom ook vas as haar Here en Verlosser.
In sy doktorale
proefskrif (2011) noem Matthew Milliner hierdie ikoon ‘n werk van visuele teologie.
(Die uitbeelding van die Theotokos gaan primêr oor die teologie van die twee
nature van Christus.) Die punt wat ek egter hier wil maak is dat hierdie ikoon
van nederigheid, pyn en verlies spreek. Daarin is die hoop geleë, juis in die
feit dat Christus dit sien kom, selfs skrik, maar nie daarvan terugdeins nie.
Pieter De Villiers skryf op sy blog oor die ikoon “Moeder van God van die Passie” o.a. soos volg: “Die ikoon, …, nooi ‘n mens in ‘n bepaalde
lewensruimte in waar vreugde en lyding konstant vermengd is. In die idioom moet
‘n mens lewe. Nooit triomfantelik, asof alles net voorspoed en vreugde nie.
Nooit depressief, asof lyding die laaste woord spreek nie.” https://pietergrdevilliers.blogspot.com/2014/02/toe-jesus-van-skrik-sy-sandaal-verloor.html
Milliner
verduidelik dat daar by Ritzos se ikoon ‘n subtiele skuif plaasvind. Maria
staar na ons terwyl sy Christus na die kruis rig. Milliner meen dat Ritzos so
vir Maria as priester wil uitbeeld wat die “genademiddele” in haar hande hou en
dit twv ons oorgee. Daar is ons roeping, om soos priesters weer in ons eie
smart, Christus aan die wêreld te toon, dat Hy in Sy lyding ons lyding op Hom
geneem het.
Maria is volgens
Lukas vir ons die voorbeeld van die een wat gewillig is om te gehoorsaam. Kan
sy ook nou die voorbeeld vir ons wees wanneer die gebroke God vir ons vra dat
ons Hom in hierdie dae sal vashou? Ons hou Hom vas juis in die vashou van die gebrokenes
om ons? Daardie vashou impliseer nou die staar na die kruis en die opwekking
van die liefde vir ‘n ganse mensdom wat in angs verkeer. Van so ‘n beeld hou
ek, want dit hou rekening met my eie gebrokenheid, wat insluit twyfel en angs.
___________________________________ooOoo_______________________________________
IKONE EN STILTE
Inleiding
In die
postmoderne era waarin die Kerk haarself bevind, wil lidmate hulle geloof in
God-drie-Enig opnuut ervaar en beleef. Veral in ons aanbiddingsgeleenthede en
viering in ons erediens het daar ‘n nuwe soeke na sin en betekenis gekom.
Lidmate soek nuwe rituele en simbole om die verlossingswerk van Jesus Christus
nuut te ervaar en beleef.
Eintlik is dit
so oud soos die Bybel. Wanneer Jesus in die wêreld inkom dan bring Hy die
Koninkryk van God na die mense. God regeer in die wêreld. Om hierdie gedagte
verstaanbaar te maak vir die mense gebruik Hy rituele en simbole wat eie was
aan die tyd waarin Hy leef. Hy gebruik spoeg en modder in sy genesingswonders
om aan te toon Hy het alle mag.
Spoeg was as magiese krag beskou (bygeloof) om jou te beskerm teen die Bose.
Ons sou kon sê Hy bemiddel die Koninkryk van God deur simbole en rituele wat
mense goed begryp het.
Binne die
liturgie moet die rituele en simbole die ontmoeting met God begelei.
Godsdienstige rituele het dieselfde funksie as alledaagse rituele. Dit bring
veral menslike emosie en ervaring tot uitdrukking. Die woord simbool kom
van die Griekse word sumballein. Die sumbalon was ‘n potskerf wat
in twee gebreek was en deur twee bondgenote uitgeruil was. Dit het gedien as
teken van ‘n onderlinge ooreenkoms. Die sumbalon dui dus op ‘n
ooreenkoms, ‘n verdrag met al sy implikasies. Simboliek lê verbande tussen
hierdie werklikheid en ‘n ander werklikheid, dié van God. Die krag van die
simbool lê in sy meervoudige betekenis wat jou emosies en gedagtes neem na die
werklikheid agter die simbool. Die simbool en ritueel moet binne die liturgiese
konteks in diens staan van die kommunikasie met God en mekaar.
Ons het
baie van die simbole en rituele uit die Kerk geban met die Reformasie van Calvyn
en Zwingly. Alles wat net gelyk (geruik) het na bygeloof was summier uitgegooi.
So het ons van wierook, olie, ikone asook verskeie rituele ontslae geraak. In
die vroeë Kerk, en tot en met die Reformasie in die 16 eeu was hierdie gebruike
algemeen. Dit sou tog kon bydra om weer ons verhouding met God deur al ons
sintuie te beleef en ervaar.
Navorsing oor
heelbreinleer is van mening dat 99% van leer onbewustelik plaasvind. Volgens
die heelbreinleerteorie leer ons die beste deur al ons sintuie te gebruik. Die
interessante hiervan is dat reuk jou beste sintuig is om mee te memoriseer. Die
reukreseptore in die neus dra die reuk direk na die serebrale korteks in die
brein. Alle ander sintuie se boodskap moet eers deur die talmus beweeg voordat
dit vasgelê word. Daarom sal ‘n reuk, aangenaam of onaangenaam jou onmiddellik
kan terugneem na ‘n ervaring of belewenis in jou lewe. Dink nou net wat kan ons
met die reuk van wierook of kerse in ons gedagtes verewig vaslê. Wie geniet dit
nie om op ‘n Sondag die kerk in te stap en deur die reuk van wyn vroegoggend
daaraan herinner te word dat ons nagmaal gaan vier nie?
Natuurlik is
die nagmaal en doop twee rituele wat gevul is met simboliek en wat baie meer
uitgebou kan word. Die tekens/simbole moet baie meer sigbaar raak. Wat maak ons
egter met tekste soos : Jak 5:14 14As daar iemand van julle
is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet
vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here.
Hand 28:8 8Publius se pa was in die bed, siek aan maagkoors.
Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande
opgelê en hom gesond gemaak. Kom ons poog om by ‘n nuwe verstaan
van rituele en simbole uit te kom.
Kuns is 'n manier
om met die werklikheid om te gaan, om die wêreld te interpreteer, te weerspieël
en te herskep. So gesien, verken kuns nie die werklikheid met kliniese,
objektiewe metodes en instrumente nie, maar met die verbeelding en die
materiaal tot die kunstenaar se beskikking. Wanneer die kunstenaar gekyk het,
wil hy uitbeeld en ook ander laat kyk. So help hy ons om ons houding teenoor
die werklikheid te toets, ons eie toestand van vervreemding raak te sien en ons
eie integriteit te ontdek.
• Kuns kan 'n
inspirasiebron wees vir spiritualiteit en geloofservaring
Dit word
gedemonstreer deur die geskiedenis van die Europese kuns wat as sodanig gesien
kan word as 'n geskiedenis van die Christelike spiritualiteit. Elke eeu se kuns
weerspieël die teologiese sieninge en die tydgees van daardie era.
• Die
verhouding tussen kuns en spiritualiteit is veelvlakkig
Die estetiese
impuls, die vermoë om te reageer op skoonheid in sy baie soorte uitinge, is in
alle mense aanwesig. Hierdie impuls kom dus in alle spiritualiteitstipes voor
en is nie beperk tot 'n bepaalde spiritualiteitstipe nie. Estetiese aanvoeling,
en uitdrukking, word dus op uiteenlopende maniere beleef en wissel na gelang
van agtergrond, persoonlikheid, begripsvermoë en so meer.
• 'n Onderskeid
tussen "religieuse kuns" en "profane kuns" is ongeldig
Daar is immers
nie twee wêrelde, 'n sakrale wêreld en 'n profane wêreld nie. Ons leef in die
een wêreld van God wat deur Christus se versoeningswerk geraak word. Ons kan
praat van kuns met godsdienstige temas. Aan die ander kant kan kuns as
religieus ervaar word sonder
dat dit 'n godsdienstige onderwerp aansny.
Wanneer 'n werk
as "eksistensieel" ervaar word, sodat die kyker "bewus
raak" van die diepste grond van bestaan, kry die ervaring 'n religieuse
dimensie. Hierdie ervaring kan tot nuwe lewensvisie lei, of dien as bron van
vreugde, of 'n appél maak op ons eie menslikheid. Opvoeding, geaardheid en
kulturele konteks speel hierby 'n rol.
Om kuns van naby te ervaar, vra ’n bietjie tyd
Die Amerikaanse
filosoof F David Martin onderskei tussen gedeeltelike genieting
van kuns en deelnemende genieting. 'n Mens kan bloot analities
kyk en die afstand behou. Maar dit is ook moontlik om met verwondering en
openheid te kyk - soos 'n kind wat kan speel en droom. Eers dan kan 'n kunswerk
jou aanspreek en ontroer. Daarvoor is tyd nodig.
• Kerk en kuns
kan bondgenote wees
In die
"bondgenootskap" tussen Kerk en kuns moet die volgende in gedagte
gehou word:
• Dit is kontraproduktief as Christene kuns
bloot beskou in terme van bruikbaarheid,
as middel tot 'n doel, byvoorbeeld as evangelisasie-metode of
propaganda-middel. Natuurlik kan kuns sosiale, politieke en ander effekte hê.
Dit kan byvoorbeeld samelewingskritiek bevat, maar die estetiese waarde daarvan
kan nie daaraan gemeet word nie. Ons kan nie kuns slegs aanvaar as ons meen dat
dit in 'n bepaalde Christelike kleurskyf inpas nie. Die kunstenaar werk met
ander vorme en idiome as die Kerk.
• Gelowiges
moet die gevaar vermy om kunswerke te vinnig en te eksklusief vanuit hul
teologiese raamwerk te beoordeel.
Kuns in aanbidding
Van die vroegste tye was kuns in die aanbiddingsgebeure vir die gelowige belangrik. Nou praat ons nie eens van simbole en rituele nie. In Eks 25–32 lees ons hoe die Here aan Moses opdrag gegee het oor die bou van die tent van ontmoeting. Gaan lees gerus hoe ryklik dit alles versier was met kleure en simbole. In 2 Kron 3–6 met die bou van die tempel is daar selfs nog meer engele en beelde van beeste, vrugte en blomme. Dan is daar nog die vreemde opdrag in die woestyn om ʼn beeld van ʼn slang te maak wat sal dien as teken van hulle afhanklikheid van God.
Ikone
Om
oor hierdie saak te praat, is deels verskriklik moeilik, gegewe ons
gereformeerde tradisie. Aan die ander kant is die postmoderne mens so
ontvanklik vir simbole en rituele. Daar is dus verskeie invalshoeke tot hierdie
gesprek. In die eerste plek is daar die kunste as vertrekpunt. Kuns word al hoe
meer herontdek as medium vir geloofsbelewenis. Die vroeë Kerk se beskouing oor
ikone kan gerus weer geevalueer word, en alhoewel die Bybel, veral die Ou
Testament, baie oor simbole en rituele praat, is die gegewens rondom ikone
uiters beperk. Trouens dit blyk as of daar net ʼn enkele teks is wat dalk hierna
verwys.
In die Nuwe Testament kry ons nie regtig ‘n aanduiding van hierdie kunsvorm nie. Daar is wel rotskuns ontdek, soos bv die doopplek van Johannes die Doper in ‘n grot naby Jerusalem. Hierdie kunsvorm dateer dus uit ongeveer 30 n.C. In Gal 3:1 kry ons dalk ‘n moontlike aanduiding dat hierdie kunsvorm, nl ikonografie, wel in die kerk so vroeg soos 50 n.C. kon bestaan het. Dit word egter nêrens anders aangedui nie. Kom ons kyk kortliks na die volgende teksgedeelte in Galasiërs 3:1, waaroor daar nie eenstemmigheid is nie.
· o, Onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? (Ou Vertaling, 1953.)
· Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang! (Nuwe Vertaling, 1983.)
Die woord afgeskilder/verkondig is in Grieks prog-raf’-o. Dit sou kon vertaal word met; om vooraf op te teken, om openlik uit te beeld of op te voer of te verf. Paulus gebruik die woord net twee keer in al sy briewe. In Rom 15:4 is dit duidelik dat dit oor die vooraf opteken van die Skrif handel. In Gal 3:1 is sy argument juis dat dit so duidelik is omdat die kruisiging voor hulle geteken is, soos die 1953 vertaling dit stel. Presies hoe hierdie ikone gelyk het, is nie seker nie. Wat wel waar is, is dat dit deel van die kerk se kunsgeskiedenis is.
Die geloof van die Kerk was nog altyd ‘n realiteit wat verby hierdie tydelike wêreld gestrek het. Dit is hierdie waarheid van die transendente wêreld wat nie gesien kan word nie, wat die inhoud en karakter van die ikonografie gedefinieer het. Die Kerk was veral geïnteresseerd in die skoonheid van die geestelike wêreld. Met die kuns tot sy beskikking het die kerk dit probeer interpreteer. Die doel met die ikonografie was om uitdrukking te gee aan die heiligheid van die transendente. Die bedoeling was nooit dat dit esteties mooi vir die oog hoef te wees nie. (Ons kan dit dus nie beoordeel soos ons Rembrandt of Dali interpreteer nie.) Die skoonheid word dus nie deur die natuurlike skoonheid van die vorm bepaal nie, maar deur die subtiele inhoud. Die skoonheid van die inhoud moet die geloof dien. "Thus, we say that each vessel, animal, and plant is good, not because of its form or colour, but because of the service it renders." (Chrysostomus 4 n.C.)
Vir die kerkvaders, soos Chrysostomos, is daar ‘n belydenis van geloof in die ikonografie opgesluit. Hierdie belydenis neem die vleeswording van God in Christus baie ernstig op. Ikone dien as visuele bekragtiging van die Niceense Geloofsbelydenis se stellings aangaande die menswording, dood, opstanding, hemelvaart en verwagte wederkoms van Jesus Christus. In die ikonografie word die ou gnosties-Platoniese gedagte van die minagting van die aardse en stoflike verwerp. Laasgenoemde is net so ‘n skepping van God as wat die geestelike is. “God die Skepper is van alle sigbare en onsigbare dinge.” (Geloofsbelydenis van Nicea).
Met die koms van die Christendom in 42 nC na Egipte het die Christen gelowiges ook gebruik gemaak van die kunsvorme van hulle tyd om hulle kerke en kloosters te versier. Gelowiges het alles begin versier met ‘n Christelike motief. Bekers, kanne en selfs op die voordeure van hulle huise, is daar Bybeltonele uitgekerf.
In sy artikel Iconography in Ancient House Churches, skryf Gabe Martini: “The Christian “house church” (and synagogue) discovered at Dura Europos (ca. A.D. 235) are about as explicit as can be when it comes to demonstrating—in an historical and archaeological manner—the existence of iconography within both Jewish and Christian architecture of the post-resurrection era; and importantly, in both cases being in the context of places of worship.” Hy verduidelik ook hoe kuns van vroeg af gebruik was om bv. Petrus en Paulus uit te beeld en in mense se huise geplaas was.
In die kloosters is daar vroeg reeds met die verf van muurskilderye (fresko’s) begin. Die kerk het in 420 n.C. opdrag gegee dat ikone in kerke gehang moet word om gelowiges met die verstaan van die Christelike geloof te help. Dit was veral Jesus en die dissipels wat uitgebeeld was. Vandag sal die voorstanders van die “heelbreinleerteorie” natuurlik vir jou sê dat daar geen beter manier van leer is as met prentjies nie. Die kerk het in die 8ste eeu verklaar dat geen kunsvorm, veral dan die ikone, aanbid mag word nie. Anders as in die Katolieke kerk, het beelde nooit in die Ortodokse Kerk voorgekom nie. Vandag nog word die Ortodokse Kerke ryklik met ikone en simbole versier.
In die Koptiese kuns, en ortodokse kuns in die algemeen, is die groot oë en die groot kop van die figure opvallend. Die eerste Ortodokse kunstenaars wou wegbeweeg van die realisme waarmee die antieke Egiptiese en Griekse afgodediens gewerk het. In daardie kunsvorme was gode as mense uitgebeeld. Dit was ook een van die redes waarom die Ortodokse Kerk, veral in Egipte, van beelde weggeskram het. In hulle oordrewe wegstuur van kuns wat met afgodery geassosieer kon word, skets hulle die figure bykans abstrak tweedimensioneel met amandel groot oë.
Dit bly egter die eenvoud van dié kunsvorm wat aan die Ortodokse Kuns sy bekoring verleen. Omdat die ikon ook nie ʼn realistiese afbeelding probeer wees nie, is daar geen lig wat gereflekteer word of skaduwees nie. Die enigste lig is wat van die persoon uitstraal of die goddelike lig van Christus. Die persone wat uitgebeeld word, word in hulle staat van verheerliking uitgebeeld. Die
Ortodokse gelowiges sal vir jou sê dat dit nie ’n prent (ikon) is waarna jy kyk
nie, maar ’n storie. Die oorspronklike kunstenaar wou nie iets teken nie, hy of
sy wou ‘n storie vertel. Daarom moet jy die “storie” lees en self luister wat
dit vir jou wil sê.
Ikone in gebed
Ikone dra by
tot die skoonheid van aanbidding. Ikone is soos vensters wat oopmaak op die
realiteit van die Koninkryk van God. Dit maak die teenwoordigheid van God
sigbaar.
Alhoewel ikone
afbeeldings is, is dit nie ʼn blote illustrasie of versiering nie. Dit is
simbole van die inkarnasie. Die simbool bemiddel die geestelike boodskap wat
vir die oor bedoel is, nou ook vir die oog sodat dit op twee vlakke die hart
aanraak.
Johannes van
Damaskus (8 eeu n.C) het gesê ikone word gebaseer op die koms van Christus na
ons wêreld toe. Ons redding word verbind met die inkarnasie van die Goddelike
Woord. Ons verlossing word dus verbind aan aardse stof, materie. “In the past,
the incorporeal (disembodied) and
invisible God was never represented. But now that God has been manifested in
the flesh and has dwelt among men, I represent the visible in God. I do not
adore matter; I adore the creator of matter, who has become matter for my sake,
who chose to dwell within matter and who, through matter, has caused my
salvation”
Deur die geloof
wat die ikoon uitdrukking aan gee en die misterie van die teenwoordigheid van
God wat dit beklemtoon, kan die ikon ʼn ruimte van vrede en afwagting skep. Dit nooi
ons uit om die teenwoordigeheid van God in my hele wese sowel as in my omgewing
te ervaar.
Om dus ʼn ikon
in jou stilte te gebruik, gee uitdrukking aan jou geloof in die lewende God, Sy
triomfantlike Kerk en die engele en heiliges rondom sy troon. Dit herinner ons
aan die skare van geloofsgetuies wat ons vooruit gegaan het, maar op ʼn
misterieuse wyse by ons teenwoordig is.
Andre Rublev se Ikon van die Drie-eenheid
Die bekende
ikon is deur Rublev in 1425 geskryf.
Dit beeld die drie besoekers aan Abraham uit waarvan Gen 18 ons vertel. Die
ikoon straal ‘n spiritualiteit uit wat die teologie van die vroeë kerk
beliggaam. Wat onmiddelik opval is die stilte in die ikon. Stilte simboliseer
ewigheid. Die drie figure, engele, simboliseer die Vader, die Seun en die
Heilige Gees. Dit is belangrik om daarop te let dat Rublev nie poog om God uit
te beeld nie. Hy poog eerder om iets te bely van die Drie-enige God. Die leser
van die ikon moet nie die fout maak deur te wil verklaar: Daar is God of lyk
God regtig so nie.
Die skrywer help ons met die interpretasie deur
bo die engel wat die Vader simboliseer ‘n huis te teken. Op die eerste vlak is
dit Abraham en Sarah se huis, hulle boom by Mamre en die berge van Judea agter
die derde engel. Rublev kyk vanuit die perspektief van die Nuwe Testament na
die gebeure. Die
huis simboliseer die “Huis van my Vader”.
Hy is die Skeppergod voor wie die ander twee buig. Die engel in die middel stel
Jesus voor met die boom as teken van sy verlossingswerk aan die kruis. Die berg
dui op die verligting van die Heilige Gees.
Die drie figure sit om die Nagmaalstafel met die beker in die middel. Die
verlossingswerk van die mense in Christus geskied deur die Drie-enige God
Die kleure in
die ikon help ons verder met die onderskeiding van die engele. Christus word
altyd met ‘n rooi kleed aan uitgebeeld. Dit is teken van sy menslike natuur.
Bo-oor is dan die blou kleed wat die hemelse of Goddelike natuur voorstel. In
ikone van Maria is haar onderste kleed blou as teken daarvan dat sy die draer
van die Seun van God is. Groen is die teken van die aarde, wysheid en lewe. God
het op die aarde in mense kom woon. Let op die blou onderkleed van die Engel.
Die ongeskape lig van God word op vier maniere uitgebeeld: wit wolke en
kledingstukke, strale wat uit die hemel uitstraal of uit ‘n figuur uit en goue
stralekranse.
In die
ortodoksie gaan die priester die heiligdom binne met sy rug na die mense. Hier
staan Christus met sy rug na die mense, maar die leser van die ikon staan aan
die agterkant van die aller heiligste deel. Rublov trek ons dus in die misterie
van God in. Die leser is as’t ware in die paradys saam met die heiliges waar
ons almal om die Nagmaalstafel teenwoordig is. Die Drie-eenheid word uitgebeeld
in ‘n sirkelgang. Terwyl daar dus stilte en geen beweging is nie, skryf Rublev
in die ikon die begrip Perichoresis in. Die woord dui op die ewige dans van die
Drie-eenheid en dat ons uitgenooi word om saam met die Drie-eenheid te dans in
die viering van alles wat heilig is.
Ten slotte
Ek begelei by geleentheid ‘n retraite vir 'n groepie mense van ‘n gereformeerde
gemeente. Ek is aanvanklik skrikkerig want hulle het ‘n sterk “charismatiese”
spiritualiteit. Ons lees die teks uit Genesis 18 (Lectio Divina), die drie
besoekers wat by Abraham opgedaag het daar by die Terpentynbome van Mamre. (Kom
ons hou ons hou die oë van ons hart oop vir wanneer die Here by ons verby kom.)
Ek waag dit om ook die ikoon van Rublev se drie
besoekers saam te bring. Ek verduidelik hoe om ikone te lees. Ikone is totaal
nuut vir hulle.
Die groep is egter ontvanklik vir hierdie nuwigheid waaraan hulle
blootgestel word. Sondag oggend vra een van die vrouens my watter “prentjie”
van die ma met die kind, is dit wat daar in een van die kapelletjies hang. Ek
vermoed onmiddellik dat sy na Maria en die Christuskind verwys. Sy moet my gaan
wys. Inderdaad is dit so. Ek verduidelik die ikoon. Dit is Maria, die Theotokos
– moeder van God of Godbarende. Op haar skoot teen haar wang, die Christuskind.
Ek wys op die stralekrans met die kruis in.
Dan vertel sy:
“Heel naweek is dit as of iets my na die kapel trek om hier te kom
stil word. Saterdagmiddag is daar iemand wat daar sit en bid en ek wil nie
ingaan nie. Vanoggend kry ek die eerste geleentheid om hier te kom sit. Ek het
my eie kind vier jaar gelede verloor, dit is steeds pynlik. Maar, vanoggend
hier voor die ikoon beleef ek die moeder en kind vertroostend. Ek is so
dankbaar dat ek hier kom sit het. Dit het vir my troos gegee.”
©Dr Johan van den Heever
Num 21:7 Moses het toe
vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak ’n beeld
van ’n giftige slang en sit dit op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna
opkyk, sal lewe.” 9Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n
paal gesit. As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het
hy bly leef.
Mat 3:16-17 Jesus
is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel
bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en
op Hom kom. 17Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit
is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”
Ps 121 Ek
kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
___________________________________ooOOoo_______________________________________
"Indeed, the truth that many
people never understand, until it is too late, is that the more you try to
avoid suffering, the more you suffer, because smaller and more
insignificant things begin to torture you, in proportion to your fear of being
hurt. The one who does most to avoid suffering is, in the end, the one who
suffers most: and his suffering comes to him from things so little and so
trivial that one can say that it is no longer objective at all." ― (Thomas
Merton, The Seven Storey Mountain p91)
__________________________________ooOOoo________________________________________
Kloostertyd - Freeman
skryf oor meditasie: Meditasie is ‘n manier van lewe en nie net ‘n manier van
bid nie. Indien ons die heeltyd agterkom ons aandagspan word gedurende die
stilte telkens onderbreek (distracted), dan word ons gedwing om die vraag na
ons lewenstyl te vra. Hoe spandeer ons ons tyd? Wat doen ons daagliks wat veroorsaak
dat ons in ons stilte steeds hierdeur versteur word. Ons moedig deur ons lewenstyl die “distractions” aan. Freeman haal
dan die woestynvaders aan: “What you want to be like at the time of prayer, you
should be like that the whole time.” Dit help dalk om jouself daaraan te
herinner dat in die stilte is God reeds daar binne jou teenwoordig en Hy begin
jou aandag kry. Gee aandag aan Hom wat reeds op jou wag.
___________________________________ooOOoo_______________________________________
Dit is tyd dat ons die dissipline
van stilte herontdek. (In tye van krises het jy net stilte en
die sakramente nodig - Merton). Tye soos hierdie vra nie meer woorde, meer
gebede en meer teologie nie. Dit vra meer stilte.
____________________________________ooOOoo______________________________________
“Wanneer jy kinders het, bid jy
sonder ophou. Om kinders groot te maak is ‘n vorm van gebed, die
hoogste vorm van gebed. Gebed van ouers is die suiwerste vorm van gebed want
ouers bid onophoudelik vir hulle kinders vanuit ‘n hart wat verlig is deur
onselfsugtige liefde.” Lazar Puhalo
____________________________________ooOOoo______________________________________
Die lewensreël van St Benediktus is
fassinerende leesstof, (veral Chittister se kommentaar daarop.) Benediktus
(480-547) het ‘n deurleefde spiritualiteit aan sy kloosterlinge verkondig. Die
vertrekpunt van sy geestelike dissiplines was natuurlik gebed en stilte. Die
vrug van die dissiplines, sê hy o.a. is geregtigheid, eerlikheid en deernis. Ek
wil dadelik die sake na ander verwys: “Julle wat soveel onreg pleeg!”
Benediktus herinner my egter; pleeg ek geregtigheid teenoor die armes, praat ek
die waarheid (veral in hierdie dae van fopnuus), het ek deernis met die
gemarginaliseerdes? En dan sê Chittister: “If I do good for the poor, it is because God has given me the courage
to do good. If we speak the truth in the face of lies, it is because God has
given us a taste for the truth. If we uphold the rights of women and men alike,
it is because God has given us eyes to see the wonders of all creation.”
_____________________________________ooOOoo_____________________________________
Kallistos Ware sê in
The Orthodox Way: “
God is not
so much the object of our knowledge as the cause of our wonder.” Dit
is wat Benediktus vir sy kloosterlinge wou leer, dat God ‘n teenwoordigheid is
waarop ons alleen maar kan reageer. God acts, we react. Of soos Hildegard von Bingen
gesê het; ek is ‘n veer op die asem van my Koning, wanneer Hy asem haal, beweeg
ek. God is die asem wat ons in en uit asem. Om in hierdie dae van afsondering
te gaan sit, intensioneel, is om God se asem deur ons te laat vloei, sonder
woorde of gedagtes of planne of oplossings. Chittister vertel in haar
kommentaar The Rule of Benedict die verhaal van die prediker wat oor en oor uit
geroep het: “Kry God terug in julle lewe, kry God terug in julle lewe!” Die Rabbi
van die dorpie het toe geantwoord: “Ons taak is nie om God in ons lewens terug
te sit nie. God is reeds daar. Ons taak is om dit gewoon te besef.” Om te sit
en asem te haal (20 min per dag) is om al hoe meer die wonder te ervaar, God is
hier binne in my.
__________________________________ooOOoo________________________________________
Covid-19 Lockdown
(Grendeltyd), tyd om weer mens te word.
My verbasing groot toe ek ‘n maand in Egipte in kloosters gebly het, en ook
telkens daarna by moderne klooster gebly het en besef het kloosters is eerstens
laboratoriums van gebed en tweedens pastorale sorgsentrums. Dit is daar waar
mense in tye van nood gaan hulp soek omdat hulle ontdek het dat hierdie manne en vroue deur hulle innerlike gebedslewe eintlik
kardinaal is vir die instandhouding van die gemeenskap. Stil onhoorbaar gaan
daar van hulle ‘n getuie uit. God is hier teenwoordig. Een van die slagspreuke
in die kloosters is: Gaan sit in jou kamer en jou kamer sal jou alles leer. Die
bedoeling is om met nuwe toewyding in stilte net by God te kan wees. Dis tyd
dat Hy ons weer mens maak, twv van mense. ‘n Mens is iemand wat liefde het vir
almal omdat hy of sy hulleself ken. Etty Hellisum, skryf in haar dagboek vanuit
die konsentrasiekamp: “Curiosity about what is yet to come is not an adequate
moving force. That force must be a genuine love of life. The greatest cause of
suffering in so many of our people is their utter lack of inner preparation,
which makes them give up long before they even set foot in a camp. They believe
our fate is sealed already, our catastrophe complete.”
_______________________________________ooOOoo___________________________________
Om oor kloosters te
praat, besef ek bring nie noodwendig nuwe verstaan van die begrip nie. Jy moet
die kloosterlewe beleef om iets daarvan te begryp. Stilte is dieselfde. It is experimental! Dus, om
stilte aan te leer, moet jy dit beoefen. Nou is die interessante, hoe meer ek
stilte beoefen, hoe meer begin ek die konsep “klooster” verstaan. Die klooster
hier binne my begin oop gaan. Sy deur swaai oop en nooi my na binne. St
Benediktus beskryf in hoofstuk een van sy Lewensreël die verskillende soorte
kloosterlinge wat jy kry. Eerstens kry die kloosterlinge wat saam met ander die
dissipline van die klooster aanvaar. Hulle is gedissiplineerd besig met hulle
daaglikse roetine van o.a. bid, werk, stilte en diensbaarheid. Die tweede groep
is hulle wat toestemming by die vader van die klooster gekry het om nog meer in
afsondering te woon. Hulle verstaan die innerlike en uiterlike dissiplines en
bly getrou daaraan sonder dat enige iemand hulle hoef te help of begelei. Maar,
dan is daar die groep wat rond swerf van klooster tot klooster, na niemand
luister nie en maar maak soos hulle wil, bid wanneer hulle wil en die met wie
hulle in aanraking kom, wil laat verstaan dat hulle heel vroom lewe. Nou wonder
ek, in hierdie dae van afsondering, skuil daar nie iets hiervan binne ons nie.
Sommige van ons is reeds oor jare heen gewoond om alleen te lewe met ‘n
bepaalde dissipline. Ander probeer weer regtig om in ‘n ritme van ‘n daaglikse
dissipline te kom wat stilte, gebed en skrifmeditasie insluit. Dan is daar
egter die van ons wat gewoon net nie hierdie “kloosterlewe” wil aanvaar nie,
vir welke goeie/slegte redes. Benedictus sê oor hulle: “…, but they listen to no one’s wisdom but their
own. They were soft.”
________________________________ooOOoo______________________________
St Benedict
I reflected on the rule of St Benedict
regarding the importance of community, how everything should be done to
preserve the wellbeing of the community. Do we do enough in this regard?
Whether it is our family community, church community or any other community we
find ourselves in, we take it for granted. And then when we are separated from
it, we only realise how important community really is.
_____________________________________ooOOoo_____________________________________
Gebed van Thomas Merton wat ek vry vertaal (uit Thoughts in Solitude)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking